Ek was gisteroggend twee ure lank tussen Pretoorsdorp en Jansberg vasgevang in my kar. Ek moes. Geen keuse gehad nie. Werk.
Daar was baie stof tot oordenking in die tydjie van beproewing. Ek is baie, baie dankbaar dat ek dit slegs per geleentheid moet doen … anders kan ek verseker weet ek gaan ‘n ere-plekkie in die hel hê – met my eie Lazyboy. Ek het lanklaas so baie gevloek. Taxidrywers, spietkops, windgatte, busse, motorfietse – niemand gee ‘n hel om vir die ander ou nie.
Bevange sit en luister ek na die nuus oor die pers radiostasie – “20 miljoen defektiewe kondome in omloop weens korrupsie, 10% van mans dink dis OK om hulle vrouens te slaan, mense vermoor vir ’n selfoon en twintig rand …”.
Liewe hemel, daar moet beter plekke wees! Weg van hierdie choas – hemel op aarde. Iemand het gesê daar is sewe hemele. So dan moet ek mos sewe hemele op aarde kry:
- daardie Franse bistro in die skadu van die Eiffeltoring waar die wêreld in slowmo verby draal gedurende die lente;
- op my gat by Victoriabaai se waters en songebakte strand;
- langs die helderste waterstroom in die Swartwoud;
- by die kampvuur, kitaar in die hand… ver weg in die Bosveld;
- rondom my plastiek kersboom tussen die skaterlag van familie en vriende;
- enige hoekie waar ek kan wegkruip om te lees en rooiwyn drink;
- in vroulief se arms.
Waar hemel jy?
2007-08-30 at 8:11 vm
Koffie en Kaaskoek by Anton’s op ‘n Sondagmiddag;
Kaalvoet in die branders op Langstrand op ‘n oosweer aand;
Die visarend se roep terwyl die son sak agter die kremetartbome;
Lekkerlag met my broers oor staaltjies uit ons kinderdae terwyl die ribbetjie rustig op die kole braai;
Die afdraende stuk net verby Arandis met die eerste reuk van die see wat jou neusgate prikkel – nadat jy amper 1800 km huis toe gery het;
‘n Lui sondagmiddag met ‘n dik boek wat vir ewig aanhou.
Groetjies
2007-08-30 at 10:59 vm
Die eerste beker (moer)koffie elke oggend.
My musiekversameling.
My versameling digbundels en ander boeke.
My pa se plaas naby Kenhardt (as ek na die uitspansel kyk…)
Ook met ‘n lekker glasie wyn in die hand.
Die Oranjerivier – omring deur die bome en riete sien mens soms niks mensgemaak nie.
Wat is die slaap ‘n wondersoete ding?
O, jy speel kitaar nê? Wanneer mag ons hoor?
2007-08-31 at 2:02 nm
Op die strand saam met my gesin.
Onder die duvet met my elektrisekombers op ‘n koue aand.
‘n Goeie boek op ‘n (verkieslik) Sondag middag terwyl die res van die huis dut.
Voor my rekenaar!!!!
In die karoo in die middel van die winter.
Langs die kaggel met my foto albums.
Voor die kos potte besig om kreatief te wees (soet/sout/Hilda kombinasies)